Sukkel jy met droë oë?

Droë oë wat branderig en jeukerig voel, is deesdae baie algemeen. Skermtyd (van fone tot rekenaars) en selfs menopouse is van die sondebokke wat jou oë kan laat droog voel. Saamgestel deur Suzanne Kotzé

05/04/2024

Tydens ’n onlangse oogtoets by Spectacle World in Kaapstad, vra Adele Camarena (eienaar en direkteur van Spectacle Word) of ons oë nie baie droog is nie. Sy weet natuurlik dat ons vreeslik baie tyd op rekenaarskerms en fone (sosiale media!) deurbring. En die meeste van ons doen dit, sonder om te dink aan die effek wat dit op ons ooggesondheid het.

Droë oë: oorsake en oplossings

Adele Camarena verduidelik meer oor droë oë en wat ons daaromtrent kan doen.

Droë-oog-sindroom

As jou oë gereeld krapperig, branderig of seer voel, dit rooi lyk en as jy gereeld jou oë soggens of na ure op jou skootrekenaar vryf, het jy waarskynlik droë-oog-sindroom. Die chroniese toestand word veroorsaak wanneer jou liggaam onvoldoende trane of vog produseer om jou oë bevogtig te hou.

Soveel mense ly aan droë-oog-sindroom sonder dat hulle dit besef en dit kan permanente skade aanrig.

Trane is belangrik

En hier praat ons nou natuurlik nie van krokodiltrane nie, maar die ‘trane’ wat natuulik in jou oë is, en jou oë bevogtig as jy dit knip of wanneer jou oë traan. “Trane bestaan uit ’n buitenste olierige lagie, ’n middelste waterige lagie en ’n binnelagie wat uit mukus (slym) bestaan.” Trane voorsien jou oë van suurstof en is nodig om jou oë te voed en te bevogtig.

Wanneer ons ligaam agterkom dat ons oë droog voel, vervaardig dit trane omdat dit die droogheid probeer herstel.

Oorsake van droë oë

Ons oë het trane nodig om ons oë te voed en bevogtig en die volgende kan bydra dat ons te min trane of trane van swak kwaliteit maak

Te veel skermtyd

Hierdie is ’n groot probleem, en selfs deesdae onder kinders! As ons vasgenael voor skerms sit, knip ons nie ons oë so gereeld soos wat ons moet nie.

Medikasie

Sommige medikasie, soos anti-histamiene, betablokkers, anti-depressante, pynmedikasie, aknee-behandelings en selfs voorbehoedmiddels kan daartoe bydra dat jy minder trane vervaardig.

Ouderdom

Soos ons ouer word, produseer ons liggame ook minder trane. Die trane wat ons wel produseer, het nie noodwendig die regte optimale balans van water, olie en mukus nie.

Menopouse

Volgens navorsing ly tot 61% van vroue wat in peri-menopouse of menopouse is, aan droë- oog-sindroom. Dit word toegeskryf aan die feit dat androgene hormone gedurende die tydperk verminder. Dit beïnvloed die Meibomkliere in jou ooglede wat verantwoordelik is om die olie in jou trane te maak. Dit beïnvloed dan die kwaliteit van jou trane.

Ander navorsing dui weer daarop dat veranderende estrogeenvlakke tot droogheid kan bydra. Sommige vroue ervaar juis hierom droë oë wanneer hulle menstrueer of voorbehoedmiddels gebruik.

Wenke om droë oë te behandel

  • Gebruik oogdruppels gedurende die dag
  • Probeer om gereeld jou oë te knip, veral as jy voor ’n skerm werk, lees of video-speletjies speel.
  • Gebruik ’n humidifiseerder om die lug te bevogtig (veral as jy lugversorging gebruik).
  • Neem elke uur ’n skermbreek.
  • Neem elke 20 minute ’n kort breek, waar jy vir 20 sekondes op ’n voorwerp 20 meter weg fokus. (Kyk byvoorbeeld by jou venster uit).
  • ’n Warm lappie of kompres wat jy in die mikrogolfoond verhit, is ook baie effektief om droë oog sindroom te behandel.
  • Voorskrif-oogdruppels wat jy in die buitehoeke van jou oë ingooi (baie mense glo verkeerdelik dat oogdruppels in die binnehoeke ingegooi moet word)
  • Maak seker dat jou dieet ryk is aan omega 3 vetsure (vis, avokado en vlassaad is goeie bronne) of neem omega 3 vetsuuraanvullings. “Die aanvullings maak dikwels ’n reuse verskil,” sê Adele.