You are currently viewing Maroela Media

Maroela Media

Lizma van Zyl

Soveel meer as net die venster tot die siel…

 

Die beeld van ‘n lang skaam meisie in hoërskool met ‘n groot diklens bril het onlangs uit die bloute in my gedagtes opgeduik. Die dag toe ek wegry van die oogkundige met my eerste properse bril.

Ek het onthou hoe sy pouses so op haar eie haar toebroodjie staan en eet en gedurig die lomp bril op en af geskuif het. Ek onthou ook dat ek toe gedink het ek wil nooit bril dra nie.

En nou doen ek maar verby is die dae van my hordes mankolieke readers. My splinternuwe blik op die wêreld is ook allermins ‘n onaansienlike, diklens bril. Dis ‘n multifokale nommertjie wat nommerpas is vir my gesigvorm en gelaatskleur danksy die experts wat my deeglik onder oë gehad het. Dís die bonus maar die “heldersiendheid” danksy die “een-vir-alles bril” is opsigself die grootste geskenk.

Ek het die tipiese kondisie wat met ouerword gepaard gaan. Oogkundige Adele Camarena verduidelik dat “presbiopie” aan die orde van die dag is wanneer jy jou veertigs bereik.

“Presbiopie word veroorsaak deur die verharding van die lens in jou oë omdat einste lens aanhoudend dikker word weens “groei”. En jy weet dis aan die gebeur wanneer jy begin sukkel om te sien wat op jou slimfoonskerm aangaan of jou boek of koerant wegskuif sodat die teks in fokus is.

Optometrist

 

 

Volgens Camarena, direkteur en oogkundige van Camarena Porter Optometrist Inc. wat onder die Spectacle World-groep val, is dit om dié rede noodsaaklik dat mens elke twee jaar jou oë laat toets. Sodra jy begin sukkel om te lees of ‘n padteken in die verte te sien is dit volgens Camarena tyd vir ‘n oogtoets. “Jy kan jouself vertel dat jy net ‘n paar ‘lesers’ van die apteek benodig om jou moeë oë te help vir rekenaarwerk of slaaptydlees maar die waarheid is dat jy dalk eerder voorskrifhulp nodig het wat spesifiek opgemeet is met die korrekte opties-gesentreerde lense vir elke oog afsonderlik.”

Tydens die oogtoets word jou oë ondersoek vir riskofaktore en okulêre siektes. Verskillende aspekte van jou visie soos jou periferiale visie, oogbewegings, vermoë om te fokus, kleur te sien en diepte te skat asook jou skerpheid van visie word dan gemeet.

Camarena sê hierdie gereelde besoeke sal ook verseker dat moontlike ernstige oogprobleme gediagnoseer en behoorlik bestuur word voordat dit jou visie en algemene gesondheid beïnvloed. Oogkundiges kyk dus na baie meer as net visieskerpte. Hulle hou hul oë oop vir onder meer diabetes en hoë cholesterol en ‘n deeglike oogontleding kan selfs ook tiroïedprobleme, rumatoïede artritis, breingewasse, Lyme se siekte, veelvudige sklerose (MS) en selfs sekere soorte kanker uitwys. ‘n Oogkundige sal egter nooit self diagnoseer nie maar jou aanraai om jou dokter te gaan spreek.

Van die mees ernstige oogkondisies wat uitgewys kan word is diabetiese retinopatie, gloukoom en makulêre degenerasie wat veral onder bejaardes voorkom en een van die hoofoorsake van blindheid is. “En katarakte sal waarskynlik tydens die latere jare verskyn as gevolg van die interne lensveranderings wat veroorsaak dat die lens dowwer raak. Amper iets soos sandblasting”, verduidelik Camarena. Sy beskryf ‘n katarak as ‘n bewolkte ooglens en wêreldwyd die grootste oorsaak van blindheid.

Baie mense, veral die wat kontaklense dra sukkel ook met droë oë weens ‘n traanklier obstruksie wat tot minder traanvloei lei. Veranderings in die oppervlak van die oog en ‘n lipied tekort is ander oorsake maar daar is eenvoudige kure vir dié algemene lastigheid. Traanvog-oogdruppels, ‘n warm kompres en Omega 3 sal gou verligting bring.

Camarena sê periferiale visie, ook bekend as kantvisie, is nog ‘n redelik algemene probleem wat gevaarlik kan wees veral wanneer jy bestuur. Periferiale visie is een van die nagevolge van gloukoom. Dis ‘n siekte wat die optiese senuwee in jou oog beskadig en uiteindelik tot blindheid kan lei.

En as jy reeds voorskrifbrille of kontaklense dra is dit ook noodsaaklik om elke twee jaar ‘n draai by die oogkundige te maak want ons oë verander gedurig. 

Baie mense skram egter weg van ‘n besoek aan ‘n oogkundige weens die onsekerheid oor wat die proses gaan behels. Camarena waarborg dat dit niks is om voor bang te wees nie. Die proses begin met vrae oor jou mediese geskiedenis waarna die oogtoets volg. Die oogkundige sal jou na afloop in kennis stel of jy ‘n voorskrifbril nodig het, raad gee oor oor-die-toonbank medikasie soos oogdruppels asook dieëtaanvullings en ook inlig of jy jou dokter moet gaan spreek indien enigiets kommerwekkend opgemerk is. ‘n Verwysing na ‘n oogspesialis sal ook plaasvind indien die oogkundige van mening is dat refraktiewe sjirurgie benodig word.

Camarena sê as ‘n onafhanklike oogkundige vir meer as 30 jaar was dit nog altyd vir haar van groot belang om net die beste vir haar kliënte te bied. “Swak sig is ‘n gestremdheid wat ‘n enorme uitwerking op jou sukses en sekuriteit kan hê. ‘n Bril of kontaklense stel jou in staat om goed te sien en terselfdertyd goed te lyk. Dis wonderlik as die raam die kliënt selfversekerd en aantreklik laat voel.”

En Camarena oordryf nie as sy sê sy en haar span gaan uit hulle pad om hulle kliënte mooi te laat lyk en voel nie.  Haar praktyk was die eerste in Suid-Afrika om ‘n sertifikaat te verwerf in The Art of Eyeware Styling. Die raam waarmee jy uitstap sal jou hare, velkleur, gesigsvorm en persoonlikheid komplimenteer!

Camarena se span het geleer om die ses verskillende styl-persoonlikhede te kan identifiseer en dan die perfekte raam te verskaf. Sy vertel dat hulle die kursus tydens die inperkingsperiode voltooi het en dat dit gróót pret was.

Kleur speel ‘n reuse rol wanneer dit by die keuse van rame kom aangesien dit jou voorkoms ‘n onmidellike hupstoot kan gee.  Sy sê hoewel die meeste mense bruin- of swartraambrille verkies doen dit nie altyd veel vir jou voorkoms nie. “Jou brilraam moet jou persoonlikheid en styl weerspieël – van natuurlik tot dramaties en klassiek tot bold. “En”, voeg Camarena by: “die regte raam kan jou jonger laat lyk!”

Sy bekragtig hoe die Kovidpandemie groot skuiwe meegebring het wanneer dit kom by hoe ons voel en wil leef.  Mense se siening oor mode het ook verander. “Ons moet bewus wees van die keuses wat ons kliënte maak, byvoorbeeld om vir eens en vir altyd ontslae te raak van die haarkleurbuisies. En ons sorg dat jou nuwe rocking grys hare en brilraam nommerpas is.”

Terloops, die 70’s, 80’s en 90’s is weer hoogmode, maar met ‘n moderne twist. “Brille is nie meer ‘n moet-hê nie maar ‘n modeverklaring!” Deurskynende rame is ook deesdae baie gewild maar uitstaan kleurvolle rame asook dié met handgemaakte afwerkings is net so in aanvraag. Die ronde raam asook dun, liggewig goue rame en die sogenaamde “kat-oog” het ook weer hulle terugkeer gemaak. Geometriese rame is trendy en selfs meer aantreklik met ‘n brilkettinkie wat dié seisoen weer “in” is.

Dit klink dalk alles duur maar Camarena verseker dat jy nie jou bankbalans hoef te knak om van dié rame te kan bekostig nie.

En baie belangrik: vir diegene wat baie ure voor hulle rekenaars spandeer is ‘n bril met ‘n bloulig-filterlens ‘n noodsaaklikheid!